Psalms 119:65-80
65 Tet. U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord.
66 Leer my ‘n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie.
67 Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord.
68 U is goed en doen goed; leer my u insettinge.
69 Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele.
70 Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet.
71 Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.
72 Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.
73 Jod. U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer.
74 Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek.
75 Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.
76 Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg.
77 Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging.
78 Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele.
79 Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken.
80 Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie.