Rentmeesterskap

photo of woman planting vegetables
Photo by bruce mars on Pexels.com

7 voor 7 Pretoria-FM 03/02/2017

 

Ons almal het op een of ander stadium al met ‘n sakrekanaar en ‘n potlood gesit en met ‘n begroting gesit en worstel. As ek dit en dit en dit doen, gaan dit soveel kos. Maar daar is eenvoudig nie genoeg geld om dit alles te kan doen nie. So kom ons doen dit of dat eerder so, en dan spaar hier of daar. Kom ons los hierdie heeltemal, dis nie so belangrik nie. Hierdie is noodsaaklik, ons kan nie anders nie… Ons het almal al sulke tipe sommetjies gesit maak. En jy het nie werklik ‘n ander keuse as wom daar te bly sit todat jou sommetjies klop nie. Totdat alles presies uitwerk nie.

In die laaste gedeelte van vers 12 kry ons die woorde:

“…werk julle eie heil uit met vrees en bewing;” Fil. 2:12

Baie mense kan die Woorde vat en sê jy moet self dit wat vir jou goed is soek, en gebruik hulle hierdie gedeelte van vers 12 om hulle standpunt te motiveer. Maar dan kom vers 13 en sê:

“Dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk.”

Daarom binne die konteks van die hoofstuk dink ek nie Paulus roep ons om dit wat goed is te soek nie. Ek persoonlik dink Paulus roep ons op om as’t ware met ‘n potlood en ‘n salrekenaar te gaan sit en, soos Louis Malherbe dit stel, die balansstaat van my lewe te gaan optrek. Wat is die bates van my lewe… Wat is my laste… Waar is ek regtig goed en waar is ek sleg. Gaan werk jou balansstaat uit en gaan bepaal dan hoeveel dit gaan kos om jou in die Hemel te kry.

Paulus roep ons om te gaan sit en uitwerk hoeveel ons heil kos. En met goeie rede voeg hy by “met vrees en bewing.”

Want as jy regtig eerlik met hierdie balansstaat van jou lewe is, dan moet jy noodwendig by die punt kom om te sê: maar ek is geestelik bankrot. Ek is geestelik so diep in die skuld dat ek sal nooit hier uit kan kom nie. Daar is nie eers ‘n manier hoe ek maandelik bietjie vir bietjie kan afbetaal nie, want elke maand boer ek net verder agteruit!

Kom ek probeer dit in perspektief plaas:

Dit het een keer se ongehoorsaamheid in die tuin van Eden gevat om Adam en Eva se dood te veroorsaak. Nee hulle het nie doodneergeslaan toe hulle gesondig het nie. Na hulle sonde moes hulle egter die realiteit van die dood in die oë kyk. Met ander woorde, een keer se ongehoorsaamheid = die dood. Maak nou gou-gou die sommetjie hoeveel keer jy die afgelope week gesondig het? Onthou sonde gebeur met gedagtes, woorde en dade… Ons is dus net vir die afgelope week alleen: Bankrot.

En as jy nie vandag met jou skuld voor God se troon gaan staan en met Hom die saak uitmaak nie, gaan Hy met jou op die Groot oordeelsdag die saak kom uitmaak. Dit is seker en gewis! Openbaring 20 vertel ons daarvan.

Daarom sê Paulus: werk julle eie heil uit met vrees en bewing. Gaan maak die sommetjies. Gaan trek die balansstaat van jou lewe op – wees bang!!!

Op die punt kan ons terug beweeg na vers 1 toe.

“AS daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is,” Fil. 2:1

Is daar enige Troos in Jesus Christus? Is sy liefde vir ons insolvente geestelike bankrot sondaars ‘n troos? Is daar teerdere ontferming by Hom?

Ek dink die Heidelbergse Kategismus geen ons een van die mooiste antwoorde op die vraag nog.

Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Die bankrot sondaar wat ek is, behoort nou nie meer aan myself nie, maar aan Jesus Christus. Die Een wat nie net my skuld kan betaal nie, maar die Een wat dit reeds gedoen het!!!

Nou wat het dit Hom gekos om hierdie skuld van my te betaal? Vers 6,7 en 8 kom wys ons…

“Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” Fil. 2:6-8

Hier het ons die basiese beginsel van die Christelike lewe. Jy behoort nie aan jouself nie. Jy is gekoop met ‘n prys!!!

Dan kom die vraag: Wat nou? Wat daarvan? Soos my een Proffie altyd gesê het: “So what?”

Dr. Timothy Keller verduidelik dit beteken dat jy nie net kan doen wat jy wil nie? Jy kan nie maar net maak soos jy lus het nie! Jy is gekoop met ‘n prys!!! Daarom sê Paulus, as opgekoopte soos ek en jy, moet ons die selfde liefde beoefen as wat Jesus vir ons gehad het, en ons moet eensgesind wees daarin. Ons moet as ‘n span liefhê soos wat Jesus ons liefgehad het!

Moenie selfsugtig wees nie, vers 3, alles gaan nie meer oor jou nie, maar oor Christus! Jy en wat jy besit behoort nie meer aan jou nie, jy behoort aan Christus! Jou tyd is nie meer jou eie om te maak wat jy wil nie, jy behoort aan Christus. Jou geleenthede behoort nie meer aan jou nie, jy behoort aan Christus. Jou grond behoort nie meer aan jou nie, jy behoort aan Christus. Jy is gekoop met ‘n prys.

Jou roeping is om na ander se belange om te sien! Vers 4. Soos wat andere na joune moet omsien. Ons moet as ‘n span liefhê, onthou? Ons moet eensgesind wees.

Hoe bestuur jy jou Tere, en Liefdevolle Meester se besittings? Mag die Heilige Gees dit in ons werk om werklik in alles voor Hom die knie te buig, en Hom in alles ook met die tong te bely, soos wat vers 10 en 11 ons oproep om te doen.

“Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ’n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie.” Fil. 2:14-16

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s