As iemand belangrik teen jou sondig?

ask blackboard chalk board chalkboard
Photo by Pixabay on Pexels.com

7 voor 7 Pretoria-FM 29/06/2018

 

Die woord wat in die Bybel gebruik word vir “eer” is ’n woord wat ook “swaar” beteken. Daar staan letterlik dat jy op ’n gewigtige manier oor jou ouers moet dink. Jy is nie veronderstel om hulle ligsinnig eenkant toe te skuif nie. Hoekom sê die Bybel dit? Die eenvoudige rede is omdat God hulle aangestel het om ’n gewigtige rol in jou lewe te speel. Dit geld natuurlik vir iemand soos ’n mentor ook.

Vandag wil ek graag 4 maniere uitlig hoe jy hierdie gewigtige persone kan eer, ook as hulle foute maak – (net vir interessantheid as Dr. Michael Horton oor afwesige ouers praat voeg hy nog twee by.)

1. Vergewe hulle

Jesus het sy dissipels geleer dat hulle die Vader moet bid om hulle sondes te vergewe soos wat hulle ook die vergewe wat teen hulle gesondig het (Matt 6:12). Dit beteken nie dat jy eers vergewe sal word as jy jou ouers se foute vergewe het nie. Nee! Maar wanneer jy iemand vergewe wat jou te na gekom het is dit een van die duidelikste tekens dat die Heilige Gees in jou werk. As jy God se vergifnis ontvang het, sal jy ander ook vergewe (Luk. 7:47).

Die spreekwoord sê vergewe en vergeet. Dit is egter nie ’n Bybelse gedagte nie. “Vergewe” beteken nie noodwendig vergeet nie. As iemand bv. ’n geskiedenis van geweld het, beteken dit soms dat daardie persoon op ’n veilige afstand gehou moet word. Tog word ons geroep om mense wat ons te na kom te vergewe, om die wrok wat ons teen hulle het te laat gaan en om God te vertrou dat Hy die saak reg sal hanteer.

2. Bid vir hulle

Soms maak ouers of mentors foute wat ernstige gevolge in hulle kinders of volgelinge se lewens en selfs geloof tot gevolg kan het. In Luk 17:2 sê die Here Jesus self dat dit vir die een wat ’n kleintjie laat struikel makliker gaan wees om ’n meulsteen om sy nek te kry en weg te sink in die dieptes van die see.

Indien iemand wat so ’n fout maak nie Christus se vryspraak ontvang nie, gaan hulle onder ’n swaarder oordeel van God staan. Eer jou vader en jou moeder deur vir hulle te bid dat hulle Christus se vryspraak mag beleef en tot bekering kan kom.

3. Moenie net die fout(e) raaksien nie – sien die mooi goed ook raak.

Gesagsfigure maak (dikwels) groot foute – hulle is mense. As kinders stel sulke goed ons dikwels diep teleur. Soveel so dat ons baie keer net die foute begin raaksien en heeltemal van die mooi en goeie goed vergeet. Veral as mens teleurgesteld is, wil mens eerder van die mooi goed vergeet en net die redes om kwaad te wees onthou. Een van die maniere hoe ons ons Ouers moet eer is deur nie net hulle foute raak te sien nie, maar ook hulle mooi en goeie eienskappe. So ook die mooi en goeie dinge wat hulle vir ons gedoen het, selfs al moet jy diep gaan krap om dit te kry.

4.Hou die kanaal oop

Wanneer ouers ’n fout maak is kinders dikwels geneig om hulle weg te skuif. Dikwels gebeur dit selfs dat daar ’n stukkende verhouding tussen ouers en kinders ontstaan. Een van die maniere hoe ons ons ouers moet eer is dat ons hulle nie moet afskryf nie: hulle het nie die reg verdien om my ouers te wees nie, God het hulle aangestel. Hulle kan dus ook nie die reg verloor nie. Ek en jy kan dus nie besluit wanneer hulle ’n oop kanaal verdien en wanneer nie! Dit is hoekom God in sy wet die opdrag gegee het: Eer jou Vader en jou Moeder – ook as dit moeilik is.

Samevatting

Om deur die geloof te lewe in ’n sondige wêreld beteken dat ons verby al die gebrokenheid van hierdie wêreld moet kyk en agter dit God getrouheid moet raaksien. Soek jou troos in die wete dat die Hemelse Vader vir ewig getrou bly aan sy kinders – niks kan ons uit sy hand uit ruk nie. Dit is tog hoekom die Vader die Seun gestuur het om al sy kinders los te koop. Dis tog hoekom Hy ook die Heilige Gees gestuur om ons van binne te verander sodat ons nie meer slawe is nie, maar kinders. Dit is wat Jesus bedoel as Hy in Johannes 17:23 sê dat die Vader elkeen van sy kinders liefgehad het soos wat Hy sy geliefde Seun, Jesus Christus, lief het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s