Hart, Verstand & Hande

abstract blackboard bulb chalk
Photo by Pixabay on Pexels.com

7 voor 7 Pretoria FM 31/05/2016

 

In die nadraai van die van die Tweede Wêreld oorlog was daar ‘n hele klomp hofsake en verhore. Die wêreld het seergekry en die wêreld was kwaad. Die oorlogsmisdade moes gestraf word. Iewers in hierdie proses het daar in sommige se gedagtes die vraag ontstaan – waar het die Nazi-regime aan die idee van die gaskamers gekom? Voor wie se deur kan die idee gelê word?

Hulle het geweet wie die idee goedgekeur het, hulle het geweet wie die idee geïmplementeer het, maar wie het dit uitgedink? Die antwoord op die vraag was ‘n moeilike een. Die een persoon wat na my mening die regte antwoord gekry het was Victor Frankl.

Hy sê in ‘n onderhoud op sy 90ste verjaarsdag die ontstellende waarheid – Ek is absoluut oortuig dat die gaskamers nie in een of ander departement in Berlyn uitgedink is nie, maar eerder in die kantore en lesinglokale van die Nihilistiese Professore. (“Victor Frankl at Ninety: An Interview,” in First Things, April 1995, p. 41.)

So terloops Nihilisme is ‘n denkskool wat sê dat tradisionele morele waardes, idees en oortuigings geen waarde het nie. Hulle sleutelwoord is pessimisme.

Die punt wat Victor Frankl gemaak het, en daarmee stem ek saam, is: Wat ek dink beïnvloed noodwendig wat ek doen. Idees het gevolge.

Wat bepaal wat ons dink? Die antwoord op daardie vraag is al baie gedebateer – die beste antwoord wat ek nog gekry het is dat dit waarvoor ek omgee en waarvoor ek lief is, dít is die bedding van my gedagtes. As jy verlief is – waaraan dink jy? Jou hart is die bedding vir jou gedagtes.

Ons almal weet dat ons nie maar net kan doen wat ons wil nie, dit is hoekom ons ‘n landswet het. Die realiteit is egter dat ons kan ook nie net dink wat ons wil nie. Meer nog, ons kan ook nie sommer net hou waarvan ons wil hou nie.

Omdat ons ons gedagtes moet oppas, moet ons ook ons voorliefdes versigtig oorweeg. Ons moet regtig gaan vra – waarna smag my hart, waar lê my liefdes. Dit is maklik om hier die mooi antwoorde te gee, maar wees versigtig. Onthou jou hart, moet die selfde storie as jou verstand en jou hande vertel, anders kul jy jouself.

Hoe werk dit?

Ons het gesien dat Judas Iskariot ‘n liefde gekoester het vir geld, dit het daartoe gelei dat hy alles begin meet het in terme van geld. Dit was sy oorheersende gedagte. Hoeveel geld het die een, hoeveel geld het daardie een. Hierdie Nardus salf is soveel werd, hoe kan hierdie vrou so onnosel wees… Eindelik het dit daartoe gelei dat Judas uit die beursie gesteel het, en nog later, dat Judas Jesus self  vir 30 silwer stukke verkoop het…

Jou voorliefdes, is die bedding vir jou idees en gedagtes, en jou idees en gedagtes lei tot dade.

Jou dade, vertel dus iets van wat jy dink, en dit vertel weer iets van wat jou hart liefhet – hierdie drie dinge is onlosmaaklik.

Dit is uiteindelik hoekom die Bybel nie ‘n groot boek van moets en moenies is nie. Hoewel, die Bybel ook lank en ernstig oor ons dade praat. Daarom is die Bybel nie bloot ‘n boek vol mooi en goeie idees nie. Hoewel daar van die mooiste idees denkbaar in die Woord is. Eindelik is die Woord ‘n boek waarin God vir ons kom wys dat Hy ons liefhet.

Daarom staan daar in Mattheus 22: 37 & 38

“En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.”

Dis presies hoekom Paulus Timotheus leer dat: …die doel van die gebod liefde uit ’n rein hart en ’n goeie gewete en ’n ongeveinsde geloof is.

Die Bybel lê groot klem daarop om nie net met jou mond of met jou gedagtes of met jou denke die Here te dien nie, maar ook met jou hart en met jou hande.

Hart, verstand en hande – waar die hart van vol is loop die mond van oor…

Hoe kan my hart verander word? Hoe kan ek dit wat reg is lief hê? Deur na Jesus te gaan kyk en te sien hoe lief Hy jou het. Deur jou hart te konfronteer met God se liefde!

Gaan kyk hoe Jesus daar in die Tuin van Getsémané ‘n keuse moes maak tussen jou lewe en sy lewe. Hoe Hy het gekies dat jy moes lewe. Gaan kyk hoe Hy moes kies tussen jy wat hel toe gaan en Hy wat al die helse lyding moet verdra – Hoe Hy het eerder gekies om die hel deur te gaan as om jou hel toe te stuur.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s