Die Vreemde

man standing near waterfall
Photo by Indra Purniawan on Pexels.com

7 voor 7 Pretoria FM 22/04/2016

 

Ek het onlangs weer ‘n bietjie oor ontdekkingsreisigers gaan oplees – dit is nou mense soos Prins Hendrik die Seevaarder en Christopher Columbus en Vasco da Gama. Almal bekende name. Meeste van ons, as ons so ver terug kan onthou, het op skool so bietjie van hulle geleer. Weet jy, daar is vir jou fassinerende leesstof! Ek het dit regtig geniet. Al hulle ontberinge, al die interessante dinge wat hulle as Westerlinge vir die eerste keer gesien of beleef het. Baie interessant.

Een ontdekkingsreisiger wie se verhaal ek besonders fassinerend gevind het was die van Marco Polo. Marco Polo het van 1254 – 1324 gelewe, en hy was maar 17 toe hy saam met sy Pa, Oom koers gekies het om die Verre-Ooste te gaan verken.

Ons lees dat hy meer as 20 jaar in die Verre-Ooste spandeer het en letterlik ‘n nuwe wêreld beleef het. Later, toe hy as krygsgevangene opgesluit was het hy sy wedervaringe aan ‘n ene Rustichello vertel wat hom toe gehelp het om dit te boekstaaf. Dié boek was baie gewild. Dit is in ‘n hele paar tale vertaal.

Mettertyd het die boek die bynaam die naam “Die Miljoen” gekry – daar was volgens sy tydgenote ‘n miljoen leuens daarin geskryf. Selfs op sy sterfbed het familie, vriende en bewonderaars van die boek by hom aangedring dat hy tog moet erken dat dit alles bloot fiksie was. Sy antwoord was egter: “Ek het nie die halfte vertel van wat ek gesien het nie.” Vandag is daar gegewens wat ons nie kan bevestig nie, tog is almal dit eens – hy het die waarheid gepraat. Sy selfversekerde tydgenote het dus gekke van hulleself gemaak.

Aan die een kant is nie moeilik om te verstaan dat hulle Marco Polo nie geglo het nie – dit wat die man vertel het was dan so radikaal anders as dit wat hulle geken en verstaan het. Dit was vreemd. En niemand is gemaklik met die vreemde nie. Interessant genoeg is dit ‘n reaksie wat ons op vele ander plekke ook sien.

In die Woord van God lees ons dat Josua en Kaleb die beloofde land saam met tien ander gaan verken het. Ons lees ook dat die volk, saam met die ander tien verspieders, gedink het Josua en Kaleb is van hulle sinne beroof. Hulle was oortuig dat hulle Kanaän nie sou kon inneem nie, selfs nie eers nadat die Here hulle uit Egipteland uitgelei het terwyl wonders en plae rondom hulle gebeur nie.

Die volk was bang vir die onbekende. Tog het hulle oneindig meer rede gehad om nie bang of ongemaklik met die vreemde te wees nie. God het tog keer op keer kom sê dat Hy hulle sal neem na ‘n land wat oorloop van Melk en Heuning. Hy het ook kom sê dat Hy hulle sal beskerm, soos wat Hy in die verlede gedoen het.

Vir welke rede ook al was die pad wat hulle reeds saam met God gestap het, ten minste in hulle gedagtes, nie genoeg rede om Hom te vertrou nie. Hulle was almal getuies van die wyse hoe God sy beloftes nakom. Hulle het God se beloftes en die president van sy vermoë gehad. Tog wou hulle nie glo nie. Vandag weet ons dat dit ‘n baie duur fout was.

Ek en jy staar ‘n soortgelyke situasie in die oë. Ons lees in die vier Evangelie Beskrywings en in die briewe van Paulus die blye boodskap van hoop en bevryding. Die evangelie vertel van iets wat anders is as wat ons nou ken. Ons hoor die boodskap van ‘n nuutgemaakte, vrygemaakte hemel en aarde. Ons lees van ‘n plek waar trane en seer nie meer kan bestaan nie. Ons hoor dat daar vir ons sonde betaal is. Ons hoor dat ons selfs vir ewig die gevolge van ons sondes kwytgeskeld is.

Dit is inderdaad ‘n boodskap wat anders is as die realiteit wat ons ken. Die vraag is nou – Gaan jy dieselfde fout as die vorige twee groepe maak? Gaan jy ook die boodskap hoor en dink sê: dit is te goed om waar te wees.

Gaan jy dalk soos die mense van Venesië reken dat die Evangelie wat vertel van iets wat anders is as dit wat jy nou ken, bloot fiksie is? Gaan jy dalk soos Israel maak en sê: dit is miskien moontlik om Kanaän in te neem, maar nie vir ons nie. Dit is dalk moontlik dat die Evangelie waar is, maar nie vir my nie.

Weet dit sal ‘n baie duur fout wees.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”  Joh 3:16

Gaan jy met entoesiasme reageer?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s