Wanneer ons na die toekoms kyk

bright bulb close up dark
Photo by Lukas on Pexels.com

7 voor 7 Pretoria FM 29/02/2016

 

Suid-Afrika se aandag was die afgelope paar weke skerp gefokus op ons universiteite en wat alles daar aangaan. Sosiale netwerke en die media was letterlik aan die brand. Jou mond hang partykeer oop as jy van die dinge hoor. Soms voel dit soos ‘n nagmerrie, en jy wonder wanneer jy gaan wakker word …

As ek die media berigte reg verstaan, is daar op hierdie blou Maandag die belofte dat sake, ten minste op die oppervlak, bietjie rustiger kan raak. Tog is daar ‘n groot onrustigheid in almal van ons se gemoedere, want met elke soortgelyke gebeurtenis word die vraag oor my en my kinders en my kleinkinders se toekoms groter en dringender.

Een uitkoms, wat die afgelope tyd meer en meer ons aandag geniet, is: “ons moet dinge self doen.” “Ons moet self verantwoordelikheid neem.” “Ons moet self bou.” Dit is geen nuwe antwoord nie, trouens ons eie geskiedenis is besaai met voorbeelde daarvan. In ‘n sekere sin is dit sinoniem met ons mense.

Die vraag is egter: hoe neem ek as Christen hierdie taak op? Hoe “bou” ek wanneer ek ‘n Christen is?

Want die feit dat ek ‘n Christen is gaan maak dat ek spesifiek genuanseerde doelwitte het, doelwitte wat anders lyk as nie-Christene se doelwitte. As my einddoel anders lyk, gaan die manier hoe ek bou ook anders lyk. Hoe ek bou en wat ek bou maak dus saak, en daarom waarsku Paulus ons in 1 Korintiërs 3: 9 en verder oor hoe ons bou en die gevolge daarvan.

So, hoe bou ‘n Christen, waaraan bou ‘n Christen?

Ek dink Jeremia, die profeet, se brief aan sy mense wat in ballingskap weggevoer is daar in Jeremia 29 stuur ons in ‘n baie goeie rigting. God kom sê deur Jeremia se brief twee goed aan sy kinders.

God herinner hulle dat hulle burgerskap nie in Babilon is nie, maar in die land wat oorloop van melk en heuning. Hy herinner hulle waar hulle huis is. Hy onderstreep die feit dat hulle tans nie tuis is nie, en meer nog dat hulle moet wag op die dag dat hulle huis toe kan kom, want dit gaan gebeur.

Saam met dit sê God: soek die vrede van die stad waarheen Ek jou gestuur het, bou huise, plant tuine, trou, vermeerder en moenie verminder nie.

Dikwels is gelowiges gehoorsaam aan een van hierdie opdragte van God. Óf ons wag so op die dag dat ons kan huis toe gaan, dat ons uit voeling uit raak met wat om ons gebeur, óf ons raak so betrokke dat ons nie meer wil huis toe gaan nie – want my lewe is hier, my belange is hier.

Tog kom gee God beide hierdie opdragte. Hy sê bou, maar bou met die feit voor oog dat jy op ‘n dag weer huis toe moet gaan. Die rede is voor die hand liggend: as jy so bou, gaan jy op ‘n baie spesifieke manier bou. Die dinge wat van waarde gaan bly as jy die dag moet terug gaan is die dinge wat van dag tot dag vir jou groter prioriteit sal wees. Die manier hoe jy die dinge sal doen wat nie van waarde sal bly as jy eers terug gaan huis toe nie, sal ook verskil.

As ons dus self nou self begin bou aan byvoorbeeld ons kinders se toekoms, dan moet ons vra: hoe kan ons hulle voorberei vir die volgende 40 of 50 of 60 jaar? Hoe kan ons hulle leer om huise te bou en tuine te plant, en die vrede van die stad te soek. Maar nog meer belangrik: hoe kan ons hulle voorberei vir die spreekwoordelike 1000 jaar wat gaan volg as ons eers tuis is in ons Hemelse tuiste.

Te dikwels weeg die 40 of 50 of selfs 60 jaar as beroepsmense vir ons so swaar dat die spreekwoordelike “1000 jaar” wat volg amper heeltemal vergeet word. Tog kan ons nie daarvan vergeet nie, daar is ‘n baie goeie rede hoekom ons wêreld tydelik genoem word. Dit gaan verbygaan…  want elke mens gaan daardie ewigheid of in die teenwoordigheid van God se heerlike genade of God se regverdige toorn spandeer. Dit is die twee moontlikhede. Daar is geen ander nie. Daarom bou met die oog op die ewigheid…

So moet ons ook te werk gaan met elke ander aspek van ons lewens. Veral met dié wat die volgende generasie Christelike leiers raak, maar ook met die wat die volgende generasies in die algemeen raak. Ons moet met die oog op die ewigheid bou.

Ons moet onthou dat die boom wat vandag geplant word se vrugte eers môre gepluk word.

So die uiteindelike vraag waarmee ons vanoggend gaan afsluit is die vraag wat Paulus ook in 1 Korintiërs 3 vra: hoe bou jy, waarmee bou jy? Met stoppels en hooi of met goud en edelstene?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s