My Kerk kan beter lyk

brown stone chapel photo
Photo by Jonathan Borba on Pexels.com

Wanneer die predikant verduidelik dat die Bybel jou leer dat jy ’n tempel van God is, en dat jy jou liggaam, siel en gees as ’n tempel moet oppas en gebruik, dan klink dit mooi. As dieselfde predikant dan uitstap om te rook, dan pla dit ons!

Op ’n sekere manier is dit presies wat ook met die Reformasie 500 jaar gelede gebeur het. Wat mense gesê het en wat dieselfde mense gedoen het – was twee verskillende goed. Die kerk het baie anders as die sondige wêreld gelyk, maar hulle het presies dieselfde (en erger) gedoen.

Mense soos Martin Luther, Johannes Calvyn en Guido de Bres het dit raakgesien en hulle moes besluit wat hulle daaraan gaan doen. Hulle kon:

  1. maak asof daar niks fout is nie, en dit ignoreer. (Miskien gaan dit weg.)
  2. maak soos wat almal maak (as almal dit doen, kan ek dit mos ook doen.)
  3. uit die kerk uit loop, want dis net ’n klomp slegte mense.
  4. kwaad word en baklei, (dit met alle geweld probeer regmaak.)
  5. kyk na wat God gedoen het, en dit ook gaan doen (oor en oor.)

Vir elkeen van die vyf opsies is daar voorbeelde in die kerk. Trouens as mens bietjie gaan soek sal jy sommer in die Bybel ook ’n voorbeeld by elkeen kry, dink bv. aan 1)Eli; 2) Sedekia en die 400 valse profete, 3)Elia by die besembos, 4)Jona en 5) Jesus.

As mens so bietjie oor iemand soos Guido de Bres, die skrywer van die Nederlandse Geloofsbelydenis, gaan lees dan sien mens dat hy nommer vyf gekies het. Hy het Jesus se voorbeeld gevolg. Hy het gesien wie God is, maar ook hoeveel geduld en liefde God vir hom het. Daarom het hy dieselfde met ander mense gaan doen – selfs met die wat vreeslik verkeerd was. Hy was nie die enigste een nie, daar is ’n klomp voorbeelde.

Nee, hulle was nie volmaakte mense nie, hulle het ook probleme en foute gehad. Hulle het ook nie al die antwoorde op al die vrae gehad nie – maar: hulle het God regtig geken en Hom gevolg. Hulle het Matt. 6: 33 baie ernstig opgeneem as daar staan dat ons eerstens God se koninkryk moet soek en dat dit wat ons nodig het om dit te kan doen, vir ons gegee sal word.

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” – MATTHÉÜS 6:33 AFR53

Guido Brés is eers ter dood veroordeel en toe gehang, maar Hy was letterlik tot op die laaste oomblik nog besig oor God se goedheid en liefde te juig – hy het dit regtig beleef!

Hy is ’n pragtige voorbeeld van ’n Christen wat dit wat hy vertel het, regtig geglo en gedoen het.

Ek hou ook nie daarvan as iemand een ding sê en ’n ander ding doen nie; dikwels moet ek myself herinner dat ek dit ook doen. Wanneer ek so iets raakloop en dit my kwaad maak, dan moet ek myself vra: “Wat gaan ek daaraan doen?” Watter een van die vyf moontlikhede het regtig ’n verskil gemaak en watter een gaan ek kies?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s