My eie koningkryk

war chess
Photo by Gladson Xavier on Pexels.com

Ek lees nou die dag van ’n nuwe soort kinderstorieboek wat ’n mens nou kan koop. Hulle noem dit “pasgemaakte stories”. Wanneer jy die boekie bestel vul jy jou naam op die bestelvorm in en dan word jy die hoofkarakter in die boekie se storie. Daar is ‘n hele klomp verskillendes: van “Die Beste Jy” (waar die letters van jou naam gebruik word om iets spesiaal oor jou te vertel) tot ‘n storie oor my eie koningkryk waar jy die held is en ‘n towerlamp jou wense laat waar word.

Op die oog af klink dit oulik, nie waar nie? Maar as Christene moet ons vir mekaar sê dat ons ’n beter soort storie nodig het. C.S. Lewis het eenkeer gesê dat die duiwel nie foute een-vir-een die wêreld instuur nie, maar twee-twee. (Een aan elke kant van die waarheid). So dink ons partykeer dat ons niks werd is nie en ander kere dat ons die belangrikste persoon in my eie wêreld is. Altwee maniere van dink is gevaarlik!

“My eie koningkryk” is ’n hartseer plek om in te bly.

As ek die belangrikste persoon in my eie koninkryk is, beteken dit dat die rede hoekom ek lewe “ek” is. Alles gaan oor my: “ek, ek, ek!” Mense doen al meer wat reg “voel” instede daarvan om dit te doen wat reg “is.” Almal sê: “Volg jou hart!” Maar wat beteken dit? 

So probeer ek al meer ’n doel vir my lewe kry deur na binne te kyk. Presies net hier is die probleem! Hoe meer ek na-binne soek, hoe minder gaan ek kry! Dit laat ons soms heeltemal waardeloos voel! 

Jy kry nie doel en rigting van binne nie, maak nie saak wat die geleerde mense sê nie! Jy kan dit net by iets groter as jouself kry! Iemand soos Ernst Roets sou nie belangrik gewees het as die mense in Suid-Afrika nie vir hom belangrik was nie. Marie Curie sou nie belangrik gewees het as wetenskap nie vir haar belangrik was nie. Martin Luther sou nie belangrik gewees het as die Bybel nie vir hom belangrik was nie!

“My eie koninkryk” maak my agterdogtig.

As ek vir myself die belangrikste is dink ek dikwels dat ek die reg het om enige gesag uit te daag. “Hulle kan mos nie hulle besluite op my afdwing nie! Hulle is net daar om my te onderdruk!” Uiteindelik word ons agterdogtig oor enige iemand met gesag en ons word blind vir die mense wat hulle gesag selfloos en liefdevol gebruik om iets goed vir my te doen.

“My eie koninkryk” is ’n eensame plek.

As elkeen net op homself fokus, beteken dit dat ek ander moet verdra wanneer hulle op hulle-self fokus. “Jy moet doen wat jy wil, ek gaan doen wat ek wil. Los my uit, dan los ek jou uit.” 

Hierdie los-my-dan-los-ek-jou is nie liefde nie – niemand gee vir mekaar om nie! Trouens, hierdie verdraagsaamheid maak baie keer dat ek ander se nood en probleme miskyk en dat ander myne miskyk! Dan word daardie mure wat jy gebou het om ander uit te hou ‘n koue eensame tronk!

Ons het ’n Beter Koningkryk en ’n Beter Storie nodig!

Jesus leer ons bid: “Laat U koninkryk kom” en “Laat u wil U wil geskied!” Nie anders om nie. Ek is gemaak om God en my naaste lief te hê. So word ek deel van groep boeties en sussies in die geloof wat ons Hemelse Vader dien met alles wat ons doen! 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s