Hoe werk die Heilsorde?

activity adult adventure backpack
Photo by Porapak Apichodilok on Pexels.com

1 Johannes 3:8 sê dat Jesus gekom het ons die werk van die Duiwel te verbreek – John Piper het dit een keer so verduidelik.

God verbreek die hipnose van sonde – (roeping)

In 2 Tessalonisense 2:14, staan:

“… dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid, waartoe Hy julle geroep het deur ons evangelie om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry.”

Hy gee my oë en ore om raak te sien dat my sonde gevaarlik is en dat ek reguit op pad is hel toe. Hy laat my ook raaksien dat Jesus hier op aarde gelewe en gesterwe het sodat ek van my sonde gered kan word.

God red my van die houvas wat sonde oor my het – (wedergeboorte & bekering)

God kom maak ons nuwe mense met nuwe begeertes. Ons dink nie meer soos vroeër nie (wedergeboorte), daarom wil ek nie meer sondige dinge hê of doen nie (bekering).

“Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is, en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.” (Rom. 6:17-18)

God red my van die straf van sonde – (regverdigmaking)

God gee my ’n nuwe hart, maar ook ’n nuwe rekord. Jesus het met my plekke geruil. Hy is gestraf vir die slegte dinge wat ek gedoen het en ek kry die seën vir die goeie dinge wat Hy gedoen het.

“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” (Jes. 1:18)

God red ons van die posisie waarin sonde ons bring – (volharding)

Vroeër was ons “kinders van die toorn” (Efés. 2:3) en ons geestelike vader was die duiwel (Joh. 8:44). Maar nou is God ons Vader omdat hy ons aangeneem het as sy kinders en erfgename (Rom. 8:15 en Efés. 1:5). Ek is nou nie meer ’n weeskind van die sonde nie maar ’n Koningskind!

God het ’n Jong christen wat met sy sonde worstel nie minder lief as ’n ou christen wat duisende mense help om tot bekering te kom nie. Een is nie meer geregverdig of aangeneem as die ander nie. Ja, die jong christen moet nog leer hoe om soos ’n koningskind te lewe, maar hy is reeds een – dis vas.

Dit is hoekom ons volhard. As Koningskind het ek elke moontlike rede om nie te wil misluk nie. Tog is dit God se genade wat maak dat ek nie terug val nie.

God red ons van die sonde waarmee ons worstel – (heiligmaking)

Die Bybel sê soms dat ons klaar gered is, en soms dat God nog besig is om ons te red. Dit is omdat die Heilige Gees in ons werk om al meer te laat dink soos wat Jesus gedink het, en te doen soos Jesus gedoen het.

“…dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. “(Efés. 4:22-24)

Jesus vat jou soos wat jy is, maar Hy los jou nooit soos wat jy is nie.

God vat uiteindelik alle sonde weg – (verheerliking)

Eendag gaan hierdie proses klaar wees. Ons sal nuwe verheerlikte liggame ontvang, en daar sal geen sonde of trane of pyn meer wees nie. (Rom. 8:23; 2 Kor. 5:1; Openb. 21:4). In die sin moet ons redding nog voltooi word. Dit is wat Paulus bedoel as hy in Rom 13:11 sê: “die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.”

So word die werk van die Duiwel heeltemal verbreek.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s