Aanlyn wêreld vs. regte wêreld

BD051F27-6194-40C0-BE25-2DA4CDD1E644

Ek blaai ’n rukkie terug op Facebook rond toe ek op ‘n video afkom van ’n klomp honde wat aan weerskante van ’n toe hek staan en baklei. Die hare staan regop en die die tande is uit. Dit is een van daardie kere waar ’n mens maar te bly is dat daar ’n toe hek tussen hulle is. Terselfdertyd is ’n mens benoud die hek is nie heeltemal toe nie! Gelukkig het die honde dit blykbaar nog nie agtergekom nie dit is egter net ’n kwessie van tyd.

Dan gebeur die ondenkbare: Iemand maak die hek oop Soos wat die hek verder oopgaan, gebruik die honde nie die kans om mekaar direk aan te vat nie. Hulle skuif maar net verder op sodat daardie hele tyd ’n stuk hek tussen hulle bly. Eindelik, toe die hek ver genoeg oop is, blaas al twee kante sonder ’n verdere blaf die aftog. Stilte … (Gaan kyk gerus self die video op YouTube: Honde baklei by die hek. ).

Ek dink die ding wat hierdie hondevideo so snaaks maak, is juis die feit dat ons dikwels dieselfde optree. Wanneer ons veilig voel, soos wanneer ek agter ’n rekenaar se skerm sit, of wanneer ek alleen in my kamer is dan doen ek baie maklik goed wat ek nooit voor mense sal doen nie. Daar is soms ’n groot verskil tussen my aanlyn-lewe en my regtewêreldlewe.

Soms is dit ook hoe ek ’n Christen is. Ek praat net oor my geloof solank daar ’n hek (skerm) tussen my en die wêreld is. Dit is maklik om mooi boodskappies van ander te “like” en te deel en selfs gereeld Bybelversies aan te haal, maar sodra ek iemand in die oë moet kyk om aan hom of haar die evangelie te vertel, dan is ek stil en maak ek soos die honde toe die hek oop is.

Ons moet hoor wat Lukas 9:26 sê:

Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.

Ander kere is ek weer ’n Christen voor mense, maar wanneer ek alleen voor my skerm is, dan doen ek goed wat my vreeslik skaam sal maak as iemand dit moet ontdek. As jy elke keer jou internet soekgeskiedenis uitvee omdat jy nie wil hê ander moet sien wat jy doen wanneer jy aanlyn is nie, is jy waarskynlik nie besig om die internet só te gebruik dat dit tot eer van God is nie.

Romeine 6:21 is hieroor duidelik:

Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood.

Die punt is dit: Wanneer ek alleen voor my skerm sit, moet ek onthou dat ek nie onsigbaar is nie. Partykeer sien mense wat ek doen en ander kere nie, maar Gód sien altyd alles. Matthéüs 6:4, 6 en 18 sê die volgende sinnetjie oor en oor:   en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.

Kom ons gebruik Romeine 14:8 as kompas vir ons aanlyn-lewe en ons regtewêreldlewens:

 Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s