Hoe vergewe ek?

1a8d6f54-c9d5-4eb7-b422-77b9e88185b6_1489378670“Ek vergewe jou,” is miskien ʼn leuen wat ons almal iewers vertel het. Al het jy hierdie woorde gebruik, het jy eintlik gesê: “ek sal maak asof dit wat jy gedoen het, nooit gebeur het nie.” Partykeer is dit maklik om te vergeet. Ander kere is dit onmoontlik – veral as jy baie seer gekry het.In Lukas 5:20 kom sê Jesus:

“… as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”

Die vraag is nou: Verwag die Here Jesus van ons om te maak asof daardie verskriklike ding nooit gebeur het nie?

Genadiglik praat die Bybel nie so oor “vergifnis” nie. Om die woord “vergewe” op ʼn Bybelse manier te verstaan moet ons eers die woord “skuld” mooi verstaan.

As ek R5 by iemand vat, sonder dat dit myne is, dan beteken dit dat ek daardie persoon R5 skuld. Selfs al sê hy dat ek dit maar kan los, beteken dit nog steeds nie dat my skuld weg is nie. Hy kan nog steeds nie sy R5 gebruik nie. Daardie dra dus self die verlies van die R5,00. Die enigste manier hoe my skuld weggevat kan word, is wanneer iemand dit betaal: óf ek óf iemand anders.

Sonde werk presies die selfde. As iemand iets verkeerds aan my doen dan het hy sondeskuld – daarom moet hy sy skuld betaal. Hier het ek ʼn probleem. Hoe kan ek hom die regte hoeveelheid laat betaal? Hoe maak mens as hy nie wil betaal nie?

God het nie dieselfde probleem nie. Hy weet presies hoeveel skuld elke sonde veroorsaak. Die ding wat my bang maak, is dat Hy ook sal sorg dat daardie sondeskuld betaal word! (Onthou skuld gaan nie net weg nie!) Dit is dan ook wat in die hel gebeur. Dit is waar God almal wat sondeskuld het laat betaal!

In Lukas 23: 34 lees ons:

En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie…”

Hier is manne wat besig is om die Seun van God op ʼn wrede manier dood te maak. Die Here Jesus weet dat hierdie manne se skuld groot is en, al weet hulle dit nog nie, weet Hy wat op hulle wag – die hel!

In plaas daarvan om te skree en te dreig bid die Here Jesus: “Vader, vergewe hulle…” Jesus vra sy Vader om hulle nie self vir hulle eie skuld te laat betaal nie. Hy bid, terwyl hulle besig is om Hom te vergruis, dat Hy eerder self vir hulle skuld sal betaal. Dis aangrypend!

Wat gebeur wanneer ek op ʼn Bybelse-manier sê: “Ek vergewe jou?” Jy sê eintlik vir daardie persoon ek gaan die skuld wat jy nou teenoor my gemaak het na God toe vat. Ek gaan Hom laat besluit hoe om dit regverdig te hanteer.

As hy ʼn kind van God is, dan is al sy sondeskuld klaar vergewe – Jesus het met sy bloed daarvoor betaal, en Hy doen nie halwe werk nie. So as ek sê “ek vergewe jou” dan bedoel ek eintlik dat ek weet dat die skuld wat jy nou gemaak het, klaar betaal is. Daarom is die saak afgehandel.

Maar, as hy nie ʼn kind van God is nie, dan moet hyself sy sondeskuld betaal (in die hel). As ek dan vir hom sê dat ek hom vergewe, sê ek eintlik dat ek die skuld wat hy gemaak het na God toe vat. God sal sorg dat dit regverdig betaal word. Daarom is die saak ook afgehandel.

As ek ‘n wrok teen iemand hou (of weier om iemand te vergewe) maak ek een van twee ernstige foute. As ek iemand nie op die Bybelse manier wil vergewe nie, beteken dit dat ek óf sê dat Jesus se betaling aan die kruis nie genoegsaam was vir daardie een se skuld nie, óf dat God nie betroubaar is om daardie een se sonde op die regte manier regverdig te hanteer nie.

As ek reken dat Jesus se betaling nie genoegsaam was om daardie persoon se sonde te vergewe nie, het ek ook geen rede om aanvaar dat dit genoegsaam was om my sonde te vergewe nie! As ek sou reken dat God nie betroubaar is om regverdig met iemand se sondeskuld om te gaan nie, beteken dit ook dat ek geen rede het om God te aanbid nie. Dit beteken dat ek glad nie op een van God se beloftes kan hoop nie! Ek kan Hom tog nie met een belofte vertrou maar met ʼn ander een glad nie…

Om te vergewe beteken nie dat ek maak asof niks gebeur het nie. Dit beteken eenvoudig dat ek God vertrou om dit regverdig te hanteer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s