Bybelse Optimisme

1656fbc0ec24f19Optimisme is die geneigdheid om die beste moontlike uitkoms te verwag of om slegs op die mees hoopvolle aspekte van ʼn situasie te konsentreer. ʼn Optimis voel gewoonlik dat “goeie goed” in die toekoms sal gebeur, of dat sy drome waar sal word. Hy verwag dus ʼn mooi toekoms.

Pessimisme is die geneigdheid om die ergste moontlike uitkoms te verwag of om slegs op die mees negatiewe aspekte van ʼn situasie te konsentreer. ʼn Pessimis voel gewoonlik dat net ‘slegte goed’ in die toekoms gaan gebeur, of dat hulle niks goed het om na uit te sien nie.

Van nature is meeste mense geneig om of optimisties of pessimisties te wees in hulle verhouding met God. Almal se glas is of ‘half vol’ of ‘half leeg’. As Christene kan ons eenvoudig nie pessimisties wees nie; ons het tog ʼn heerlike erfenis in Christus in die Hemele.

I PETRUS 1:3-5
‘Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat  in die hemele bewaar is vir ons wat  in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.’

Optimisme is egter nie noodwendig dieselfde as geloof in God nie. Dit kan ʼn natuurlike persoonlikheidseienskap ook wees wat niks met geloof uit te waai het nie. Wêreldse optimisme is nie gebaseer op geloof nie. Baie ongelowiges weier om hulle-self te ontstel deur bekommernisse – op die wyse is die lewe soveel meer aangenaam. Eugene Marais vertel ons iets daarvan in die L’Envoi van sy gedig, Skoppensboer.

Gewis is alles net ’n grap!
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met ’n lamfer-lap
wat selfs die son ’n skadu gee…

Dus onverleë
lag ons maar mee
met elke toer
van Skoppensboer!

“Don’t worry; be happy” is hulle slagspreuk. Hulle plaas hulle geloof in afgode soos bv. karma, ontkenning, die heelal, of selfs doelbewuste onkunde. Dit is ʼn misplaaste optimisme met geen fondasie nie.

Optimistiese mense put baie genot uit die lewe en dit is gewoonlik aangenaam om in hulle geselskap te wees. MAAR: Bloot omdat iemand optimisties voorkom beteken dit nie dat hy geloof in God het nie, of dat, selfs al glo hy/sy in God, dat hulle die waarheid aangaande God glo nie.

Sonder dat hulle dit besef is sommige Christene ook geneig om hulle geloof in ʼn “mindere (en valse) god” te plaas omdat hulle ʼn wanbegrip oor “geloof” het. Ons klou dikwels hardkoppig aan die gedagte vas dat ons dit wat ons van harte begeer sal ontvang. Hoekom? Want, redeneer ons, ons glo dat ons sal. Ons dra dikwels groot sorg om uiterlik ‘positief’ voor te kom omdat ons dink dat negatiewe gedagtes sal veroorsaak dat ons gebede nie verhoor word nie. Op die manier dien ons ʼn afgod!!! Ons glo in die krag van positiewe denke.

Dit is valse optimisme: dit is nie op die beloftes, wat God in sy Woord aan ons gee, gebaseer nie. Wanneer so iemand se gebede nie verhoor word nie, los dit hom of haar met een van twee opsies en beide is baie sleg:

  • Of die persoon begin homself blameer en verwyt omdat hy/sy nie hard genoeg geglo het of nie positief genoeg was nie.
  • Of die persoon begin God verwyt omdat God nie sy gebede beantwoord nie.

Al twee opsies veroorsaak ontnugtering, verwyte, seerkry, hopeloosheid en nog meer vrae… Dit is hoekom so baie mense vandag sê dat ʼn optimis eintlik maar ʼn pessimis sonder ervaring is. Ander weer sal ook sê: ek is nie ʼn pessimis nie, ek is net  ʼn realis... Agter beide gesegdes lê dieselfde ontnugterende waarheid.

Bybelse-optimisme, daarenteen, is die gevolg van jou vertroue op God. Die Bybel noem hierdie optimisme: “Hoop!”

ROMEINE 8:6, 23-25
Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van  die aanneming tot kinders,  naamlik    die verlossing van ons liggaam. Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.

I KORINTHIËRS 2:9
‘maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.’

Maak nie saak wat in hierdie lewe gebeur nie, ons weet dat God sien en omgee. Meer nog, dat Hy elke traan sal afvee. (Openbaring 21: 4). Daardie vertroue kan ons ʼn optimistiese uitkyk op die lewe gee, selfs in die moeilikste van tye. Bybelse optimisme plaas nie soveel fokus op aardse gebeure nie. Dit kan moeilike omstandighede aanvaar omdat “alles ten goede meewerk vir dié wat God na sy voorneme geroep het.” (Romein 8: 28). Godgegewe hoop kyk verby dit wat ons kan verstaan om uiteindelik met ʼn Godgegewe perspektief na die lewe te kyk.

God het ons gemaak om met hoop te lewe. Psalm 43:5 sê:

PSALMS 43:5
Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof — die verlossing van my aangesig en my God!’

Optimisme is daarom ʼn keuse. Wanneer ons kies om God in alles te vertrou, kan ons op sy beloftes hoop om ons te versorg, soos en hoe dit Hom behaag. (Filippense 4: 19 en Lukas 12: 30 – 31.) Om so op God te hoop en vergenoegd te wees met sy voorsienigheid gee ons die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Daarom se Petrus ook:

I PETRUS 5:7
‘Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.’

Paulus beaam hierdie gedagtes.

FILIPPENSE 4:6 & 7
‘Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.’

Die wete dat ons ʼn liefdevolle hemelse Vader het wat werklik vir ons omgee en in ons behoeftes voorsien is genoeg rede om elke kind van God waarlik optimisties te maak. (Mattheus 6:8 en Lukas 12: 29 – 31).

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s